Oorsig

Op Goeie Vrydag wanneer die maan oor die oseaan sy verskyning maak, sal ‘n groep amateurs die geboorte, lewe en lyding tot die opstanding van Jesus, in die mees asemrowende toneel op die rotse van die Ou Hawe in Hermanus opvoer.

Die ontstaan van die Hermanus Passiespel
In 'n gemeenskapsvergadering, in 1995, oor sake om meer toeriste na hierdie gewilde kusdorp te lok het Mnr en Mev Koos en Lisma Kotze besluit om 'n "Passiespel" op te voer. Mev Kotze het die grootste deel van haar lewe 'n dramaskool gehad en besluit om te bly by dit wat sy die beste doen. Sy het baie wind van voor gekry van mense wat gesê dat dit nie haalbaar is om mense op die gladde rotse in die nag te laat loop nie. Sy het haar nie van stryk laat bring nie en sederdien het dit 'n jaarlikse hoogtepunt geword op Hermanus se kulturele kalender. Na nege jaar het mev Kotze die regie aan Fanus Le Roux oorgegee wat dit tot vandag toe nog behartig.

Die produksie en die speelvlak
Jaarliks word die Ou Hawe in 'n verhoog omskep. Drie dae voor Goeie Vrydag word daar stel gebou om Jerusalem, Betani� en Getseman� na aan 'n werklikheid te laat lyk. Die kruise waar Jesus (vir die afgelope 19 jaar gespeel deur Reinhardt Singleton) gekruisig word staan op die hoogste helling met slegs die horizon in die agtergrond. Oor hierdie speelvlak oor die ruwe rotse beweeg nagenoeg 90 spelers in die donker. Dan word net 'n volglig gebruik om die spel op die bepaalde plek waar die toneel afspeel te volg. Spesiale effekte soos Bethlehem ster, die duif wat oor die baai vlieg en die weerligstrale wanneer Jesus aan die kruis sterf, word deur laser lig nageboots. Elke deel van die toneel van 90 min het 'n bepaalde plek om af te speel. Maria (gespeel deur Pikkie Stapelberg) beweeg op die kleinste rotslysie wanneer die eerste lig op haar val. 'n Dun kabel word gespan teen die rotslys waar sy beweeg en dan gespe sy haar aan die kabel vas wanneer sy teen die kranse uitgaan. Geelbek, die donkie waarop Jesus sit met die intog in Jerusalem, word oudergewoonte vanaf Stanford word aangery om weer deel te neem.

Spelers en betrokkenes
Meer as 'n driekwart van die spelers wat jaarliks aan hierdie Passiespel deelneem het al meer as eenkeer deel geneem want dit is meer besonders om deel te hê aan hierdie Passiespel as om daarna te kyk. Kinders so jonk as 4 jaar en spelers so oud as 80 neem hieraan deel. Die meerderheid spelers kom van Hermanus en Caledon . Een person wat 'n besonderse bydra lewer tot die Passiespel is oom Theo De Meyer, reeds ver oor die 80, speel self in die skare. Oom Theo sorg dat daar Sondag na Sondag by die oefening en ook by die optrede dertig kinders uit die agtergeblewe gemeenskap aangery word om deel te hê aan die spel vir soveel jare. Van hierdie kinders speel soldate, een hang aan die kruis, en drie van hulle is die skaapwagtertjies.

Ek wil ook my dank en waardering uitspreek aan elke deelnemer wat vir soveel jaar so baie opoffer om elke Sondag middag die oefening bywoon en ook die Paasnaweek tuis bly om deel te hê aan die Passiespel.

Klank
Ons het van die beste klankstelsels sodat die nagenoeg 4000 toeskouers wat die spel op Goeie Vrydag bywoon nie een woord mis nie. Van die mense wat nie meer plek op die sleephelling kan kry nie staan in die straat bokant die hawe om te luister al kan hulle nie die volle spel sien nie. Die hele spel bestaan uit 95 snitte wat op CD vasgelê is en almal doen gebare-spel. Mev Kotze het destyds al hierdie snitte met ‘n bandmasjientjie opgeneem. Nêrens in die wêreld is 'n Passiespel wat met Hermanus Passiespel vergelyk kan word nie.

Besoekers se kommentaar
Jimmy en Beatie Walker van Kathu: Wat 'n belewenis. Met die branders wat agter jou klots, speel hierdie mees bekende verhaal voor jou af. Dit is gewone mense wat hierdie verhaal so treffend uitbeeld. Ek het daar met gemengde emosies gesit "dankbaar-, verwonderd en hartseer", dat my Vader in die hemel dit vir my gedoen het.

Leon en Susan Van Rooyen van Caledon, 'n medespeler: Toe ek genader is vir kommentaar is daar so baie wat ons kan en wil sê, maar wat sal nou die beste klink of wees? Ek vra toe vir God, wat sal u sê van die KRUISBOODSKAP van U Geliefde Seun, U Enigste Seun, DIE BELANGRIKSTE BOODSKAP IN DIE HELE BYBEL, wat sou U sê? SY antwoord was: "SOLANK EK AL DIE EER DAARVAN KRY"

 

Daleen Gudmanz  van  Pretoria:
Met ‘n hart wat oorloop van opgewondenheid het ek myself gemaklik gemaak teen die muur van die Ou Hawe, om my eerste Passiespel as stadskind te beleef.


Wat ‘n belewenis was dit!  Toe ek sien hoe die toeskouers instroom, het ek met ‘n dankbare hart en trane in my oë besef dat almal wat vanaand teenwoordig is, uitsluitlik hier is om die Kruisboodskap van 2000 jare gelede te herleef en om weer eens  te beleef, hoe lief God ons werklik het! 


Ek het Abba Vader gedank vir sy oneindige liefde wat Hy onvoorwaardelik aan ons almal skenk.  Elke dag..., waar ons ookal is, of gaan.
Mag hierdie eeue oue boodskap van genade,  maar veral van liefde,  nog vir baie jare op hierdie besonderse wyse aan ons almal, deur die inwoners van Hermanus en omgewing uitgebeeld word. 
Alle eer aan God!    Loof en prys Sy naam!

Wonderwerke
Eerstens wil ek my Hemelse Vader loof en prys vir die beskerming wat hy ons bied oor die Passiespel, dat HY elke jaar sorg vir 'n sukses en dat HY die spelers en toeskouers beskerm.

Wat wonderlik is, is dat daar al kere gewees het wat dit gereën het oor die Paasnaweek maar wanneer die spel begin om 20h00 het dit opgehou met reën en wanneer die spel klaar was, het dit weer begin reën.

Twee jaar gelede het die klank doodgegaan toe die spel aan die gang was, minuut later weer aangegaan sonder enige defekte. Die Here het daarmee vir ons laat verstaan, EK is met julle, EK is in beheer.

Toegang
Kaartjies is beskikbaar by Computicket. Bring asb u eie stoel en iets warm teen die elemente van die natuur.

Enige navrae kan gerig word aan Fanus Le Roux by 078 483 3080 of e-pos fanusleroux@lantic.net